ChapterPDF Available

Perspektiewe op Afrikaans in die werk van swart Afrikaanse digters in post-apartheid Suid-Afrika

Authors:
Perspektiewe op Afrikaans in die werk van swart Afrikaanse digters in post-apartheid
Suid-Afrika
Louise Viljoen
Swart Afrikaanse skrywers, Afrikaans en die literêre kanon
Enige bespreking van die manier waarop swart Afrikaanse digters in hulle poësie
kommentaar lewer op die taal waarin hulle skryf na Suid-Afrika se oorgang van demokrasie
in 1994 moet noodwendig begin met ’n verwysing na die ambivalente status van Afrikaans.
Studies oor die ontwikkeling van Afrikaans is dit eens dat die taal gevorm is deur die
interaksie van die Nederlands gepraat deur die eerste setlaars in Suid-Afrika met die Maleis
gepraat deur slawe, die Kreool-Portugees gebruik deur matrose sowel as slawe en die
inheemse taal Khoi; ook dat dit spore van Duits, Frans, Arabies, Afrika-tale en Engels
bevat.
1
Aan die een kant is dit die moedertaal van wit Afrikaners en dra dit die las van ’n
assosiasie met die uitsluitende en onderdrukkende beleid van Afrikanernasionalisme. Aan
die ander kant is meer as die helfte van die taal se sprekers van gemengde afkoms en is die
taal ook gebruik as ’n instrument in die stryd teen apartheid. As sodanig het dit dus veral in
die tweede helfte van die twintigste eeu die etiket van beide taal van die onderdrukker en die
onderdrukte gedra. Na 1994 het Afrikaans sy bevoorregte posisie as een van slegs twee
amptelike tale in Suid-Afrika verloor om een van elf amptelike tale te word, met Engels wat
steeds meer gebruik word as die amptelike taal en lingua franca van die land. Vir die doel
van hierdie bespreking is dit ook belangrik om in gedagte te hou dat die aandeel wat bruin
sprekers van Afrikaans gehad het in die ontwikkeling van die taal meermale
onderbeklemtoon en selfs verswyg is in Afrikanernasionalistiese weergawes van die
ontwikkeling van die taal.
Hiernaas is dit ook belangrik om die gebruik van die term “swart Afrikaanse skrywer” te
verduidelik. Binne die Suid-Afrikaanse konteks verwys die term na skrywers van gemengde
afkoms wie se moedertaal Afrikaans is en wat die taal gebruik as medium van literêre
uitdrukking. Ampie Coetzee skryf dat, gesien vanuit ’n Foucauldiaanse perspektief, swart
Afrikaanse skryfwerk ’n diskursiewe formasie is wat onder andere gekenmerk word deur
diskussies oor die keuse van hierdie skrywers om hulle self te beskryf as “swart” eerder as
“bruin”.
2
Die meeste Afrikaanse skrywers van gemengde afkoms het in die apartheidsjare die
1
Vergelyk volgende bronne oor die ontwikkeling van Afrikaans: Besten 1986, 185-230; Ponelis 1993;
Roberge 1995, 68-88; Roberge 2003, 15-40.
2
Coetzee 2002.
term Kleurling verwerp omdat hulle gevoel het dat dit ’n stilswyende aanvaarding van
apartheid se rasse-kategorieë Bantoe, Kleurling en Indiër sou impliseer. Hein
Willemse argumenteer dat die gebruik van die politiek-inklusiewe term “swart” ’n verset was
teen die etikette van onderdrukking om sodoende protes teen en verwerping van die wit
heersende klas se rasse-kategorieë te sinjaleer.
3
Volgens die historikus Mohamed Adhikari
het hierdie strategie saamgeval met “coloured rejectionism”, aangewakker deur die ideaal van
’n nie-rassige Suid-Afrika in anti-apartheidsbewegings soos die Non-European Unity
Movement (NEUM) in die 1970’s en die United Democratic Front (UDF) in die 1980’s.
4
Ampie Coetzee meen dat die gebruik van die term solidariteit gebring het onder Afrikaanse
skrywers wat uitgesluit was van wit bevoorregting. Hy konstrueer dus die swart Afrikaanse
skrywer as ’n nie-Afrikaner, Afrikaanssprekende en nie-hegemoniese skrywer: die term is
gemunt om hierdie skrywers te onderskei van Afrikaner-skrywers of wit Afrikaanse skrywers
en het die aandag gevestig op hulle ervaring van marginalisering binne die kanon van die
Afrikaanse letterkunde.
5
Willemse verwys na die “onsigbare grense” tussen swart Afrikaanse
skrywers en die hoofsaaklik wit Afrikaanse literêre tradisie en argumenteer dat die manier
waarop die taal Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde vir die grootste deel van die
geskiedenis gekonstrueer was swart Afrikaanssprekendes gemarginaliseer het sodat hulle
bydraes op die kantlyn geplaas is en hulle potensiaal as skrywers nie ten volle erken is nie.
Selfs al sou dit die ideaal wees om rasse-kategorieë op te hef, argumenteer Willemse dat die
onderskeid tussen wit en swart in die Afrikaanse literatuurstudie en literatuurgeskiedskrywing
gehandhaaf moet word omdat ras en etniese affiliasie so ’n deurslaggewende rol gespeel het
in die verlede.
6
Ten einde my bespreking te laat aansluit by die bestaande akademiese
diskoers (gevestig deur ondersoekers soos Jakes Gerwel, Hein Willemse, Steward van Wyk,
Ampie Coetzee en andere) sal ek in hierdie bespreking die term swart Afrikaanse digter
gebruik.
Alhoewel ’n hele aantal swart Afrikaanse skrywers literêre tekste gepubliseer het vanaf die
1940’s (met as mees prominente verteenwoordigers die digters S.V. Petersen, P.J. Philander,
Adam Small en Lionel Sheldon), was daar ’n merkbare toename in die literêre produksie van
swart Afrikaanse skrywers na 1976. Willemse skryf dit toe aan die invloed van die swart
bewussynsbeweging, ’n verhoogde politiese bewussyn en die opkoms van ’n intellektuele
middelklas.
7
Die skrywers wat vanaf die middel van die sewentigerjare na vore kom, is
3
Willemse 2007, 30-31.
4
Adhikari 2005, 161.
5
Coetzee 2002, 154-155.
6
Willemse 2007, 33-61.
7
Willemse 1999, 11.
Julian de Wette, Vernie February, Hein Willemse, Frank Anthony, Peter Snyders, Patrick
Petersen, Clinton V. du Plessis, Vincent Oliphant en Marius Titus. Na 1994 kom die
belangrikste bydraes van A.H.M. Scholtz, S.P. Benjamin, E.K.M. Dido, Kirby van der
Merwe, Loit Sôls, Floris Brown, Diana Ferrus en Ronelda Kamfer. Oorsigte van die veld
8
toon dat sosio-politiese temas oorheers in die werk van hierdie skrywers en wys die volgende
kenmerke uit: die herskrywing van die geskiedenis vanuit die perspektief van die
gemarginaliseerdes, die artikulering van hulle eie gemeenskappe se ervaring, die opvoeding
van hierdie gemeenskappe deur middel van literêre tekste om hulle leserspubliek te word, die
skryf van tekste vanuit die perspektief van die werkersklas, ’n bewussyn van die skrywers se
politieke rol (alhoewel dit deur enkele van die skrywers bevraagteken is), die oortuiging dat
hulle werk toeganklik moet wees om gelees te word tydens politieke vergaderings en
kulturele byeenkomste tydens die stryd teen apartheid, die gebruik van spreektaalvorme van
Afrikaans as ’n vorm van verset, die soeke na positiewe konstruksies van identiteit, die
herwaardering van onder-gewaardeerde kulturele uitdrukkings en die soeke na ’n eie estetika.
Dit is teen hierdie agtergrond wat die artikel, aan die hand van geselekteerde voorbeelde,
ondersoek instel na die wyse waarop swart Afrikaanse digters hulle in gedigte geskryf na
Suid-Afrika se oorgang na ’n demokratiese bestel in 1994 uitspreek oor Afrikaans.
Die posisie van Afrikaans na 1994: Diana Ferrus, Clinton V. du Plessis
Die besinning oor taal as die medium van poësie is ’n belangrike tema binne enige poëtiese
tradisie, ook dié van Afrikaans. Binne die breër konteks van metapoëtiese refleksie oor die
aard van die taal en die moontlikhede van representasie in die algemeen, is dit egter
opvallend dat Afrikaanse digters dikwels die intieme en konfessionele ruimte van die poësie
gebruik om te besin oor Afrikaans. In die periode na 1994 word daar dikwels geskryf oor die
nuwe posisie van Afrikaans as een van elf amptelike tale wat steeds meer van sy formele
funksies moet afstaan aan Engels wat stelselmatig besig is om die enigste amptelike taal van
Suid-Afrika te word. Hierdie gegewe ontlok ’n hele spektrum van emosies by Afrikaanse
digters wat wissel vanaf opgetoënheid oor die feit dat die taal deur sy weerloosheid na 1994
bevry is van ’n ongeregverdigde magsposisie, gevoelens van skuld oor dit wat gedoen is deur
sommige sprekers van die taal, kommer oor die agteruitgang in die taal se amptelike status en
woede oor die taal se moontlike ondergang. Dit is dus nie vreemd dat swart Afrikaanse
skrywers ook hulle poësie gebruik om hulle uit te spreek oor die posisie van Afrikaans na
1994 nie en dat daar onder hulle ook uiteenlopende opvattings na vore kom nie.
Diana Ferrus se bundel Ons komvandaan van 2005 is in ’n groot mate ’n poging om haar
herkoms te beskryf en haar voorsate te huldig. Daar is verwysings na verre voorsate soos
Sara Baartman (“Vir Sara Baartman”) en slawe-voorouers (“Ons komvandaan”) sowel as
8
Vergelyk Gerwel 1985, Willemse 1999 en 2007, Van Wyk 1999, Coetzee 2002.
lede van die intieme familiekring (“Herinneringe”, “Aachen,” “Antie Sarie”) en figure uit die
anti-apartheidstryd met wie sy identifiseer (“Vir Basil February”, “Winnie”, “Vir Patrick
Petersen”). Die gedigte oor Afrikaans adem ’n optimistiese sfeer en sien duidelik ’n plek
daarvoor in post-apartheid Suid-Afrika. Die gedig “Afrikaans, ’n versoeningstaal” verwys na
die opvatting dat Afrikaans van Europese afkoms is en gesien is as die taal van die
onderdrukker, maar beklemtoon hierteenoor die feit dat die taal sy oorsprong gehad het in
“die buik van Afrika”, dat dit dans “uit die monde van slawe, Europeërs en inheemse volke”
en dat dit sing in “’n duisend stemme”.
9
Die slotstrofe van die gedig suggereer dat die taal
versoenend optree teenoor ander tale en opgaan in die Afrika-Renaissance (’n begrip
gepropageer deur Thabo Mbeki tydens sy termyn as Suid-Afrikaanse president). In
aansluiting hierby is die gedig “Kom ons praat weer Afrikaans” ’n hartstogtelike pleidooi vir
veeltaligheid eerder as eentaligheid in Suid-Afrika en vir die hernude gebruik van Afrikaans.
Alhoewel daar verwys word na Afrikaans se reputasie as onderdrukkerstaal, beklemtoon die
gedig dat die bevrydingstryd in Afrikaans gestry is (“Ander het die taal met moedersmelk
ingekry, / het hulle bevrydingstryd in hierdie taal gestry!”).
10
Hierteenoor gebruik ’n ander swart Afrikaanse digter, Clinton V. du Plessis, sy poësie om sy
kommer uit te spreek oor die voortgesette bestaan van Afrikaans. Die gedig “die taal” in Du
Plessis se bundel gedigte, talk show hosts & reality shows van 2009 is gebaseer op die
templaat verskaf deur Ingrid Jonker se bekende gedig “Die kind wat doodgeskiet is deur
soldate by Nyanga”. In Jonker se gedig lig die kind sy vuiste teen sy vader en moeder; in die
geval van Du Plessis se gedig keer Afrikaans ’n “gekneusde gesig” na sy moeder wat uit die
politieke bevrydingstryd kom en na sy vader wat geassosieer word met politieke
onderdrukking. Die suggestie is dat die taal onvermydelik geskaad is deur sy ambivalente
geskiedenis. Aan die een kant sê die gedig dat Afrikaans nié dood is nie en verwys dit na die
rykdom van betekenis daarin opgesluit. Aan die ander kant stel die gedig dit ook dat die taal
“tenger en weerloos” is en betreur dit die feit dat die taal uitgesluit word van amptelike
vergaderings en die wetgewende prosesse in die nuwe Suid-Afrika. Die refreinreël in Jonker
se gedig, “Die kind is nie dood nie”, word hier vervang met “die taal is nog nie dood nie” wat
suggereer dat daar wel die moontlikheid is dat die taal mag uitsterf. Die gedig bou egter op
na die slotstrofe wat wel tot die konklusie kom dat die taal besig is om te sterf:
die taal wat ’n boom wou word met baie wortels, wat wou tak en blaar oor afrika
die taal wat ’n beitel wou word, kan nie meer reis nie
sterf met sy meulsteen, sonder ’n paspoort
sonder ’n land.
11
9
Ferrus 2005, 18.
10
Ferrus 2005, 19-20.
11
Du Plessis 2009, 13.
Ten spyte van sy betrokkenheid by Afrikaans wat onder andere uit bogenoemde gedig spreek,
het Du Plessis homself in 2010 by monde van ’n artikel getitel “Fokofafrikaans, ’n
swanesang” onttrek van Afrikaans vanweë dit wat hy ervaar as die voortgesette
marginalisering van swart Afrikaanse skrywers.
12
Die gebruik van niestandaardvariëteite van Afrikaans: Peter Snyders, Marius Titus, Loit
Sôls
Die gebruik van niestandaardvariëte van Afrikaans deur swart Afrikaanse skrywers is reeds
sedert die sestigerjare ’n besprekingspunt. Adam Small se gebruik van die
niestandaardvariëteit Kaaps in sy bundels Kitaar my kruis (1962) en Sjibbolet (1963) is
deur sommige gekritiseer omdat hulle gemeen het dat dit bruinmense op negatiewe wyse
stereotipeer en hulle as etniese groep uitsonder eerder as wat dit nie-rassigheid bevorder.
Laasgenoemde argument is gestel deur Richard Rive tydens die eerste simposium oor Swart
Afrikaans skrywers in 1985
13
ten spyte van die feit dat Small beklemtoon het dat hy Kaaps
beskou as ’n volwaardige taal wat “die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat,
dra”.
14
Die taalkundige Frank Hendricks meen eweneens dat Small as skrywer oortuig was
van die “gebruiksgeldigheid van Kaaps” in teenstelling met die “hiërargiese perspektief op
die verskeidenheid van Afrikaans” wat in die sestigerjare van krag was.
15
Peter Snyders is nog ’n swart Afrikaanse digter wat ’n niestandaardvariëteit van Afrikaans
gebruik in sy poësie. Dit is die geval in sy eerste twee bundels ’n Ordinary mens (1982) en
’n Waarskynlike mens (1992), sowel as die bundel Tekens van die Tye (2002) wat gepubliseer
is na 1994. Hy verwys in die gedig “Ek is siëker Die Bruinmense” in laasgenoemde bundel
na die debat oor die gebruik van Kaaps en roep ook die akademiese diskoers rondom die
keuse vir die gebruik van die term “swart” in plaas van “Kleurling” of “bruin” op:
Ek is siëker die Bruinmense
Die swart geleerdes -
(dis nou die Kleurling
in die blacks-, coloureds- en Indian-ding)
as djy in Kaaps skryf
stereotype djy die Kleurlinggroep
wat, volgens hulle, nie bestaan nie
oekie die Kaaps wat ons praat nie.
12
Du Plessis 2010.
13
Rive 1985, 65-69.
14
Small 1973, 10,
15
Hendricks 2012, 101.
En as ek oor myself skryf
vir wie stereotype ek dan?
16
Dit is duidelik dat die spreker in hierdie gedig suggereer dat die argumente oor stereotipering
gevoer word vanuit ’n posisie buite Kaaps. Deur middel van die retoriese vraag in die
slotstrofe suggereer hy dat stereotipering slegs kan plaasvind indien jy oor iemand anders
skryf en nie wanneer jy oor jouself en in jou eie taal skryf nie. Uit die gedig blyk sy
skeptisisme oor die gebruik van die term “swart” omdat dit wat hom betref ’n ontkenning is
van die bestaan van die “Kleurlinggroep”, ook sy huiwering oor die term “Bruinmense”
(vergelyk die titel “Ek is siëker die Bruinmense”). Die posisie wat Snyders in hierdie gedig
inneem, toon dat dat die kontestering van die terme swart, bruin en Kleurling ook in post-
apartheid Suid-Afrika voortgaan.
In die gedig “Volk sonner taal” uit dieselfde bundel lewer Snyders kommentaar op die
interaksie tussen taal en identiteit:
Volk sonner taal
Sonner identity
het ek g’n taal,
soe, ek maak ’n woord hier
en ek liën ’n woord daar.
Die moedertaal se basterkind
issie unofficial taal
van my streek
wat my steeds
as volklose mens
grondwetlik bepaal.
17
Hierdie gedig suggereer dat die bruinmense onder die apartheidsbedeling “sonner identity”
was, ’n verwysing na die feit dat hulle nie as volwaardige burgers met volle demokratiese
regte deur die apartheidsbestel erken is nie. Om hierdie rede konstrueer hy sy eie variëteit
van Afrikaans deur woorde te maak en te leen. Hierdie taal noem hy dan “[d]ie moedertaal se
basterkind”, ’n woord wat die diskriminasie teen die bruin sprekers van Afrikaans en sekere
taalvariëteite oproep. Verder word daar gesê hierdie taal is die “unofficial taal / van my
streek” wat uitwys dat hierdie variëteit van Afrikaans (wat gevorm is as gevolg van
uitsluiting) nie in die ou bedeling amptelike status gehad het nie en dit ook nie in die nuwe
bedeling het nie. As gevolg hiervan is die spreker nog steeds ’n “volklose mens” wie se
burgerskap nie werklik deur die grondwet erken word nie: hy het nie ’n “official taal” nie en
is daarom “volkloos”. Die verwysing na ’n “volk” roep deur die suggestie van die
“Afrikanervolk” die ou bedeling in Suid-Afrika op, maar kan ook gelees word as ’n
16
Snyders 2002, 54.
17
Snyders 2002, 19.
verwysing na die nuwe Suid-Afrikaanse nasie waarin die spreker hom steeds nie gerespekteer
voel nie. Laasgenoemde afleiding berus veral op ander gedigte in die bundel soos
“Monochrome riënboognasie” waarin daar verwys word na die metafoor van die reënboog vir
die Suid-Afrikaanse nasie.
18
Volgens die spreker in hierdie gedig is dit ’n wit en swart
reënboog waarby hy as bruinmens uitgesluit voel. Snyders se bundel Tekens van die tye
lewer dus kommentaar op die wyse waarop rasse-diskriminasie eintlik van hom ’n mens
“sonner identity” gemaak het en hoe dit sy Afrikaans bepaal het. Dit gaan verder deur daarop
te wys dat die gebruik daarvan hom na die demokratisering van Suid-Afrika in 1994 nog
steeds merk as ’n buitestaander.
Marius Titus sluit aan by Adam Small en Peter Snyders met sy gebruik van ’n
niestandaardvariëteit van Afrikaans wat herinner aan Kaaps in die bundel Genesing in vuil
water van 1999. Dit is duidelik dat hy hom hierdeur verset teen die stigmatisering en
uitsluiting van die sogenaamde niestandaardvariëteite van Afrikaans. Die kwessie word
getematiseer in gedigte soos “Taalrit” waarin die metafoor van ’n motorwedren gebruik word
om aan te dui dat Afrikaans ’n “oorvol waentjie” saamsleep en dus nie kan vorder in die
wedren tussen verskillende tale nie. Die gedig suggereer dat eksklusiwiteit die rede is vir
Afrikaans se swak vertoning: “Al daai klomp exclusive goed / is die oorsaak van die lae
spoed”.
19
Hiernaas is daar ook die gedig “Oegtie roep” waarin daar aangedring word op ’n
meer inklusiewe Afrikaans deur gebruik te maak van ’n hele reeks woorde wat hulle
oorsprong het in die Afrikaans gepraat deur Kaapse Moslems (soos beskryf deur Davids in
The Afrikaans of the Cape Muslims van 2011):
Oegtie roep
Ek het ook deel in jou ontstaan
sê Oegtie Maleis vir Afrikaans.
Ek oenang jou om saam met my
ietjma en fatwa oor die sakie te kry.
Daai ding is uit van check jou bek
en kombuistaaltjie ken jou plek.
Booia, Motjie, Galatie en Gala,
roep soos ’n bilal en vra kanalla
om my hart te wen
en my rol te erken.
Lambaar is verby, kom laat ons trou-
dié Maleise ghantang is deel van jou.
Ons oenang vir jou halaal bobotie
samoesas, sosaties, boeber en motjies.
18
Snyders 2002, 48.
19
Titus 1999, 11.
Laat ons slammat sê en maak jou tuis
tussen Oosterse kruie in my kombuis.
Getrou spring ons maniengal vry,
saam sal ons uit die koeber bly.
20
Die gedig begin deurdat “Oegtie Maleis” (vrou of suster Maleis) die taal Afrikaans daarop
wys dat sy deel was van die ontwikkeling daarvan. Die tweede strofe verwys daarna dat tye
verander het en dat daar nie meer sprake is daarvan dat sy moet stilbly en as “kombuistaal”
(’n minderwaardige variëteit van die taal) haar plek moet ken nie. Die rolle is eerder
omgekeer: (standaard)Afrikaans word aangesê om soos ’n “bilal” (bekeerling) te roep en
“kanalla” (asseblief) te vra om “oegtie Maleis” se hart te wen en haar rol te erken. Die derde
strofe sê dat die “lambaar” (verlowing) verby is en dat hulle nou kan trou. So ’n huwelik sal
die enigste manier wees waarop hulle “maniengal” (die dood) kan vryspring en uit die
“koeber” (begraafplaas) bly. Dié gedig stel doelbewus uitdagings aan poësie-lesers wat slegs
die standaardvariëteit van Afrikaans ken deur die insluiting van woorde soos “oegtie”,
“oenang”, “ietjma”, “fatwa”, “bilal”, “kanalla”, “lambaar”, “ghantang”, “boeber”, “motjies”,
“slammat”, “maniengal” en “koeber”. Die taalkundige Achmat Davids skryf in sy studie The
Afrikaans of the Cape Muslims oor die herkoms van sommige van hierdie woorde.
21
Ronelda
Kamfer se tweede bundel grond/Santekraam van 2011 beklemtoon eweneens die rol wat
Kaapse Moslems en Islam gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans deur die insluiting
van verwysings na Arabiese spreuke, Arabiese skrif en Arabiese woorde in sommige gedigte
(vergelyk die gedigte “grond”, “Insha’Allah”, “slot onder water” en “slot slot slot” in die
bundel).
22
Loit Sôls gebruik in die digbundels My straat en anne praat-poems (1998) en Die far-away
klanke vanne hadeda (2006) op sy beurt ’n hibridiese taalvorm wat hy Goema noem. Sy
gedigte is ’n vorm van praat-poësie wat ’n kombinasie is van “performance poetry” en “rap”
(kletsrym). Ten spyte van die gebruik van rym en die gestileerde ritmiese element word daar
in hierdie gedigte so na as moontlik beweeg aan ’n spreektaal wat hom nie steur aan enige
taalvoorskrifte nie en ook nie huiwer vir kruheid nie. In die woordelys wat eersgenoemde
bundel afsluit, beskryf Sôls “Goema” as “Afrikaans soos gepraat op die Kaapse Vlakte”. Hy
sit die aard daarvan verder uiteen in die gedig getitel “Goema”. Hiervolgens is “Goema” ’n
“hele mix bredie” wat bestaan uit ’n vermenging van verskillende tale. Alhoewel die taal se
wortels (“roots”) in Engels en Afrikaans lê, spruit daar in sy geval nuwe en eiesoortige lote
(“stingels”) daaruit:
20
Titus 1999. 9.
21
Davids 2011, 250-251.
22
Kamfer 2011, 10, 14, 55 en 59.
Ek laik Ingels
ma’ ek prefer Mingils
Afrikaans oek
ma’ my tong soek:
sy roots het anne soot stingels
23
Sôls gaan voort om Goema as poëtiese instrument te gebruik in sy tweede bundel Die
faraway klank vanne hadeda (2006). Die gedig “Goema II” beklemtoon weer eens dat
Goema ’n mengsel is van Afrikaans en Engels (“Afrikaans en Engels was in my in gedrill /
Ma’ is opgemengels in my opgroei-wil”).
24
Hierdie gedig beklemtoon dat die skep van ’n
nuwe taal uit Engels en Afrikaans die spreker ’n gevoel van vryheid gee wat hy nie met enige
ander taal kon kry nie. Volgens die gedig het hy ’n voorkeur vir tale wat voortdurend
ontwikkel en verander, juis omdat dit kontak tussen mense moontlik maak (“Ma’ watte sorry
state isse taal wat al lankal klaa gedetermine is / Mense smaak mos connection, vannie pub
tot byrrie terminus”).
Dit blyk reeds uit Sôls se eerste bundel hoe belangrik dit vir hom is om deur die vermenging
van Engels en Afrikaans ’n nuwe taal te skep wat sy kulturele identiteit kan dra. In die gedig
“Wierre fok is ék han?” rig die spreker ’n aanklag teen “dr whitemind” (die geleerde witman,
’n persoon wie se denke alleenlik gemoeid is met die witmens) wat hom in so ’n mate
oorheers het dat hy van sy eie kultuur ontneem is en in die proses begin twyfel het aan sy eie
identiteit. Hy verwys na die sosiale en kulturele oorheersing deur Engelse én Afrikaanse
witmense (“djy was nou net amazing / met jou baa-baa black sheep / en djan pierewiet”);
ook na die verwoesting van sy “cultural heritage”, die erodering van sy geskiedenis en die
wegneem van sy eiendom. Deur die skep van ’n unieke taalvorm kan hy egter sy eie
kulturele identiteit bevestig:
ek hou jou dop
die kee is ek groot genoeg
en ék gannie vegiet
wierre fok ek issie
25
In die gedigte wat hierbo bespreek is, blyk dit dat vir die digters belangrik is om legitimiteit
en respek te eis vir dié vorme van Afrikaans wat vantevore nie erkenning geniet het nie
omdat dit buite die standaardvariëteit gelê het. Dit is duidelik dat daar ’n behoefte is vir die
insluiting én erkenning van al die invloede wat Afrikaans gevorm het terwyl eksklusiwiteit en
uitsluiting gesien word as iets wat die oorlewing van die taal bedreig, kommunikasie en
23
Sôls 1998, 18-19.
24
Sôls 2006, 16.
25
Sôls 1998, 14-15.
interaksie kortwiek en vryheid belemmer. Veral in Sôls se geval is daar ’n behoefte om die
taal te omskep tot ’n unieke hibriede vorm waarin hy homself kan uitleef.
Die terug-eis van die taal: Ronelda Kamfer
Ook die digter Ronelda Kamfer lewer in haar poësie kommentaar op die komplekse
verhouding met haar moedertaal Afrikaans. In die gedig “Kuns en culture”, opgeneem in
Nuwe stemme 3 (geredigeer deur Krog & Shaffer, 2005), blyk dit dat een van die komponente
van haar talige identiteit ’n skaamte is oor Afrikaans en sommige van die kulturele uitinge
wat daarmee geassosieer word (soos byvoorbeeld die Afrikaanse musiek wat op die radio te
hoor is). Die spreker in die gedig bely dat sy van hierdie Afrikaanse musiek hou en
“liegstories” opmaak sodat sy ongestoord daarna kan luister op die radio sonder dat haar
vriende daarvan uitvind. Hierop volg dan die volgende strofes:
dis weird hoekom ek skaam is vir ’n taal wat ek praat
dis even nog meer weird dat ek en my vriende
nooit na die “kultuur”-events toe genooi word nie
daar is ’n groot panic attack aan die gang oor ’n taal
maar hulle sal nooit ons hulp vra nie
die geraas gaan nie oor ’n taal nie
dit gaan oor bang mense wat vasklou
soos ’n baba aan ’n bottle
almal moet groot word
ek het respect vir die taal wat ek praat
ek like dit net beter as ek dit kan flex
en tune om by my wêreld in te pas
ek luister steeds my geheime stasie
maar om dinge te balance
eet ek mieliepap en djol in ’n shebeen
nou daais kuns en kultuur
26
In hierdie strofes strofes erken die spreker dat dit vreemd is om skaam te wees vir ’n taal wat
sy praat, maar plaas sy dit teenoor die nog groter vreemdheid van Afrikaans se geskiedenis
waarin sekere sprekers se aandeel in die ontwikkeling en hulle belang by die voortbestaan
van die taal ontken is. Die feit dat bruin mense se hulp nie gevra word wanneer dit gaan oor
die toekoms van Afrikaans nie, impliseer dat hulle nie werklik as deel van die Afrikaanse
taalgemeenskap gesien word nie. Die spreker in die gedig gaan voort om te sê dat daar
onderliggend aan haar skaamte vir die taal ook ’n affiniteit en respek daarvoor is, veral as sy
die taal kan “flex en tune” om by haar “wêreld in te pas”. Ook by haar is daar dus die gevoel
dat die taal ’n soepel instrument moet wees wat die vermoë het om aan te pas by
omstandighede. In haar eie geval integreer sy elemente van die Afrikaanse kultuur (“ek
26
Vergelyk Krog & Shaffer 2005, 73-74.
luister steeds my geheime stasie”) met elemente uit die swart stedelike kultuur (“djol in ’n
shebeen”).
Bogenoemde gedig, waarin gevoelens soos skaamte, respek en aangetrokkenheid deel
uitmaak van die spreker se verhouding met Afrikaans, is uiteindelik nié opgeneem in haar
debuutbundel Noudat slapende honde van 2008 nie. Hierdie bundel bevat egter wel die gedig
“vergewe my maar ek is Afrikaans” wat ’n verdere blik bied op die digter se komplekse
verhouding met haar moedertaal. In hierdie gedig verwys die spreker daarna dat die wit
patriarge van apartheid (hulle word aangespreek as “liewe ooms” en later beskryf as “die
Boere”) die taal Afrikaans en die idee van ’n gepaardgaande Afrikaanse identiteit vir
hulleself toegeëien het. Net soos in Snyders se geval, is daar die suggestie dat hierdie
uitsluiting van bruinmense hulle gelaat het met ’n soort non-identiteit. In haar geval gaan dit
egter ook gepaard met ’n byna instinktiewe en onbeheerbare vrees. Die spreker in die gedig
vertel dat hierdie “ooms” die “Boogie Man” van haar kindertyd was en dat sy ’n byna
onbeheerste vrees vir hulle gehad het (strofes 2 en 3). Sy maak dit ook duidelik dat hierdie
soort vrees nie maklik af te skud is nie (“but as with every childhood fear / adulthood changes
nothing”). Die spreker maak egter vordering wanneer sy op uitdagende wyse haar Afrikaanse
identiteit terugeis van die ooms wat haar vroeër so geintimideer het:
maar ten minste kan ek julle nou sonder
’n breakdown ignore
en dit alles te danke aan
VOORUITGANG
yes, julle etters
ek het julle geheim ontdek
ek praat julle taal
ek eet julle kos
ek bly in julle vaderland
ek drink julle wyn
ek sing julle musiek
en liewe ooms, ek, ja, ek, ek vry met julle seuns
27
Sy neem dus haar Afrikaanse identiteit terug van die Afrikaner-mans wat vir so lank te kenne
gegee het dat Afrikaans hulle taal is, dat Suid-Afrika hulle vaderland is en dat sommige van
die kulturele produkte (kos, wyn, musiek) hulle skeppinge en dus ook hulle eiendom is. Hoe
sterk die impak van hulle appropriasie was, blyk egter wanneer die spreker vir die ooms sê sy
praat “hulle” taal, eet “hulle” kos, bly in “hulle” vaderland, drink “hulle” wyn” en sing
“hulle” musiek. Haar mees provokatiewe stelling, gesien vanuit die perspektief van die
ooms, is wanneer sy dat sy “vry met [hulle] seuns”. Hiermee daag sy een van die groot
taboes in die apartheidstyd, naamlike seksuele omgang oor die kleurgrens, uit. Alhoewel die
spreker in die titel van die gedig haarself as Afrikaans beskryf, gee die gebruik van die frase
27
Kamfer 2008, 32-33.
“vergewe my”, die gedig se verwysings na kindertydvrese en ’n moontlike “breakdown” ’n
aanduiding van die moed wat dit verg om haar Afrikaanse identiteit terug te neem van die
“ooms” wat ’n personifiëring is van die politieke sisteem wat haar onderdruk het en haar
Afrikaansheid ontken het. Kamfer se gedig demonstreer die hoë psigologiese prys wat die
individu betaal wanneer sy of haar identiteit op hierdie manier ontken word. Die gedig is dus
’n uitdagende terugeis van talige en kulturele identiteit, maar maak die leser ook bewus van
die psigologiese skade wat mense berokken is.
Ter afsluiting
Alhoewel daar ’n groot mate van diversiteit is in die wyse waarop bogenoemde digters hulle
verhouding met Afrikaans in post-apartheid Suid-Afrika artikuleer, is daar tog bepaalde
ooreenkomste. Byna sonder uitsondering verwys hierdie digters na die diskriminasie,
marginalisering en uitsluiting wat bruin sprekers van Afrikaans moes ervaar in die verlede.
Dit is duidelik dat omtrent elkeen van hierdie digters worstel met die komplekse geskiedenis
van die taal waarin hulle skryf. Sowel diegene wat optimisties is dat die taal versoening kan
bewerkstellig as dié wat pessimisties is oor die taal se oorlewing herinner die leser aan die
skade wat die taal berokken is deur die geskiedenis van diskriminasie en uitsluiting. Dit is
juis om hierdie rede dat digters wat niestandaardvariëteite van die taal gebruik, aandring op
die legitimiteit daarvan en respek daarvoor opeis. Dit blyk ook uit die werk van ’n digter
soos Ronelda Kamfer dat die rekonstruksie van ’n Afrikaanse identiteit waarin die taal by
wyse van spreke geherapproprieer word ’n pynlike proses is waardeur die trauma van die
verlede sowel as gevoelens van woede, wrewel, self-twyfel en skaamte aangespreek moet
word.
Universiteit van Stellenbosch
Bibliografie
Besten, Hans den, Double Negation and the Genesis of Afrikaans’, in: Pieter Muysken &
Norval Smith (red.), Substrata versus Universals in Creole Languages. Papers from the
Amsterdam Creole Workshop April 1985. Amsterdam/Philadelphia 1986, 185-230.
Adhikari, Mohamed, Not white enough, not black enough. Racial identity in the South
African Coloured community. Athens, Ohio / Kaapstad 2005.
Coetzee, Ampie, ‘Swart Afrikaanse Skrywers: ‘n diskursiewe praktyk van die verlede’, in:
Stilet 14, nr 8 (2002), 149-166.
Davids, Achmat, The Afrikaans of Cape Muslims from 1815 to 1915. Pretoria 2011.
Du Plessis, Clinton V, Gedigte, talk show hosts & reality shows. Cradock 2009.
Du Plessis, Clinton V, Fokofafrikaans, ’n swanesang. Geraadpleeg op 5 Mei 2010 via
http://www.argief.litnet.co.za/cgi-
bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=85427.
Ferrus, Diana, Ons komvandaan, Kaapstad 2006.
Gerwel, G.J, ‘Van Petersen tot die hede: ‘n kritiese bestekopname’, in: Julian F. Smith,
Alwyn van Gensen, Hein Willemse (red.), Swart Afrikaanse skrywers. Verslag van ’n
simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26-27 April 1985.
Bellville 1985, 11-22.
Hendricks, Frank, ‘Om die miskende te laat ken: ’n blik op Adam Small se literêre gebruik
van Kaaps’, in: Tydskrif vir Letterkunde 49, nr. 1 (2012): 95-114.
Kamfer, Ronelda, Noudat slapende honde. Kaapstad 2008.
Kamfer, Ronelda, Grond/Santekraam, Kaapstad 2011.
Krog, Antjie & Schaffer, Alfred (red.), Nuwe stemme 3. Kaapstad 2005.
Rive, Richard, Culture, Colouredism, Kaaps’, in: Julian F. Smith, Alwyn van Gensen en
Hein Willemse (red.), Swart Afrikaanse skrywers. Verslag van ’n simposium gehou by die
Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26-27 April 1985. Bellville 1985, 60-68.
Ponelis, Fritz, The Development of Afrikaans. Frankfurt am Main 1993.
Roberge, Paul T, ‘The Formation of Afrikaans’, in: Rajend Meshtrie, (red.), Language and
Social History. Studies in South African Sociolonguistics. Claremont 1995, 68-88.
Roberge, Paul T, ‘Afrikaans’, in: Ana Deumert & Wim Vandenbussche (red.), Germanic
Standardizations. Amsterdam/Philadelphia 2003, 15-40.
Snyders, Peter, Tekens van die tye. Pretoria 2002.
Sôls, Loit, My straat en anne praat-poems. Kaapstad 1998.
Sôls, Loit, Die faraway klanke vanne hadeda. Kaapstad 2006.
Small, Adam, Kitaar my kruis. Tweede uitgawe. Kaapstad 1973.
Titus, Marius, Genesing in vuil water. Stellenbosch 1999.
Van Wyk, Steward, Adam Small: Apartheid en Skrywerskap. Universiteit van Wes-
Kaapland 1999.
Willemse, Hein, “’n Inleiding tot buite-kanonieke Afrikaanse kulturele praktyke”, in: H.P.
van Coller (red.), Perspektief en profiel. Deel 2. Pretoria 1999, 3-20.
Willemse, Hein, Aan die ander kant. Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse
letterkunde. Pretoria 2007.
Gepubliseer in: Liebregts, Peter, Praamstra, Olf en Van Zyl, Wium. 2013. Zo ver en dichtbij.
Literaire betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut,
285-301.
ResearchGate has not been able to resolve any citations for this publication.
Article
Full-text available
Illuminating the neglected: A view on Adam Small’s literary integration of KaapsThis article examines the literary reflection of Kaaps in the oeuvre of Adam Small from the perspective of an egalitarian approach to linguistic diversity. According to this approach the standard and non-standardised varieties of a particular language, such as Afrikaans, should be regarded as linguistically equipollent and equally valid codes of communication. Alongside reflections on the dialectological and sociolinguistic nature of Kaaps as well as the contextualisation of Small’s choice of Kaaps as literary medium, it is shown how Small’s personal views on this variety of Afrikaans, the ways in which it is textually integrated and the portrayal of it’s linguistic nature implicitly serve as demarginalising and estigmatising mechanisms. It is emphasised how Small’s groundwork regarding the illumination of the intrinsic linguistic nature and functional sufficiency of Kaaps, have paved the way for Kaaps to be recognised as a potential feeder source in the re-standardisation of Afrikaans which appears to be imminent. This is viewed as one of Small’s great historical contributions.
Article
Full-text available
'If we go back in time, the problem of what Afrikaans is becomes more and more difficult', wrote Valkhoff more than two decades ago (1972:2), and notwithstanding a far better understanding of the material facts, his words remain true today. In what follows I shall elucidate the sociolinguistic nature of the formation of Afrikaans at the Cape of Good Hope. In section 2 I explore the social bases of glottogenesis within a pantheoretical framework in the sense that the parameters I identify will hold for any theory or model of glottogenesis at the Cape. To paraphrase Woolford (1983:2): Although there are internal principles that govern the theoretically possible linguistic paths along which .. language may evolve in an extraterritorial setting, it is the external factors that determine how radically its linguistic structure will diverge from metropolitan norms. Section 3 is devoted to a critical overview of both current and selected older writings on how Afrikaans came into being. No one who has investigated its history would seriously dispute that the emergence of the new code was as much a social fact as it was a purely linguistic one. But not everyone has put equal emphasis on this truism. In numerous writings on our subject we find widely varying degrees of concern with sociolinguistic relations underlying the formation of Afrikaans. Section 4 explores the implications entailed by adoption of the view that periods of marked shifts in linguistic patterns are largely congruent with significant changes in culture. An eminent linguist/anthropologist of another generation, Harry Hoijer, was of the opinion that in order to understand linguistic change, one must see it as a part of a wider process of cultural change. Naturally, this is not to suggest a causal connection between sociocultural trends and specific linguistic changes. Rather, changes within the various aspects of culture cannot be regarded as distinct and unrelated but must be seen as different realizations of a single process (Hoijer 1948:335). In section 5 I discuss the directional gradience of linguistic items across social class by the end of the Dutch India Company (VOC) era in 1795, with a view toward elaborating on my claim (Roberge 1994) that the Cape Colony was a continuum ~peech community. More precisely, the Netherlandic speech community at the Cape consisted of a spectrum of lects ranging from the 'High' Dutch of the expatriot power elite to a Cape Dutch Creole. Rather than concern myself narrowly with the origins of these linguistic items, I focus on their social transmission and development in a context of interacting social groups alternating among variants in their linguistic ,repertoires. As such, this essay departs somewhat from the usual method of historical disquisition in Afrikaans linguistics, which concentrates on single-feature etymologies and takes for granted the formation of a socially accepted grammar.
Article
The concept of Colouredness---being neither white nor black---has been pivotal to the brand of racial thinking particular to South African society .The nature of Coloured identity has always been a matter of intense political and ideological contestation. Between Black and White: Racial Identity in the South African Coloured Community is the first systematic study of Coloured identity, its history, and its relevance to South African national life. Mohamed Adhikari engages with the debates and controversies thrown up by the identity?s troubled existence and challenges much of the conventional wisdom associated with it. A combination of wide-ranging thematic analyses and detailed case studies illustrate how Colouredness functioned as a social identity from the time of its emergence in the late nineteenth century through to its adaptation to the post-apartheid environment. Adhikari demonstrates how the interplay of marginality, racial hierarchy, assimilationist aspirations, negative racial stereotyping, class divisions, and ideological conflicts helped mold peoples' sense of Colouredness over the past century. Knowledge of this history and of the social and political dynamic that informed the articulation of a separate Coloured identity are vital to an understanding of present-day complexities in South Africa. Mohamed Adhikari lectures in the Department of Historical Studies, University of Cape Town. His books include Let us Live for Our Children: The Teachers League of South Africa, 1913-1940, and he coedited South Africa's Resistance Press: Alternative Voices in the Last Generation under Apartheid (Ohio, 2000).
Article
Thesis (Ph. D. Litt., Faculty of Arts and Humanities)--University of the Western Cape, Bellville, 1999. Includes bibliographical references (leaves 212-233).
Kitaar my kruis. Tweede uitgawe
  • Adam Small
Small, Adam, Kitaar my kruis. Tweede uitgawe. Kaapstad 1973.
Die faraway klanke vanne hadeda
  • Loit Sôls
Sôls, Loit, Die faraway klanke vanne hadeda. Kaapstad 2006.
Aan die ander kant. Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde
  • Hein Willemse
Willemse, Hein, Aan die ander kant. Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Pretoria 2007.
Apartheid en Skrywerskap
  • Van Wyk
  • Adam Steward
  • Small
Van Wyk, Steward, Adam Small: Apartheid en Skrywerskap. Universiteit van Wes- Kaapland 1999.